Wednesday, May 19, 2010

Genocide Watch Article - 27 April 2010

This article can be found on Genocide Watch, Resources, By Region, Africa, Southern Africa, South Africa.

 MEDIAVERKLARING
ONDERWERP           :           SWART EN WIT RASSISME – UITTREKSEL UIT TOESPRAAK OP POTCHEFSTROOM (VRYHEIDSDAG)
UITGEREIK DEUR     :           Dr. Pieter Mulder
HOEDANIGHEID       :           VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye
DATUM                       :           29 April 2010
Hoe lyk Suid-Afrika sestien jaar na 27 April 1994 se verkiesing?
Onthou jy die reaksie toe president Mandela in 1995 die nommer ses Springbokrugbytrui aangetrek het en Suid-Afrika die rugbywêreldbeker gewen het?
Die huidige politieke skikking wat in 1994 bereik is, is nie 'n outomatiese gegewe nie. Verstandige leiers aan weerskante van die politieke spektrum sal voortdurend daaraan moet bly werk en dit aanpas om Suid-Afrika 'n veilige tuiste vir nie net die swart meerderheid nie, maar ook vir alle minderhede van Suid-Afrika te maak.
Die afgelope drie weke, met die moedswillige sing van die "Skiet die Boere"-lied en met talle plaasmoorde, waaronder die moord van Eugene Terre'blanche, is daar baie gepraat en geskryf oor die 1994-skikking en hoe Suid-Afrika vandag daar uitsien. Net enkele feite:
Sedert 1994 is meer as 300 000 (328 244) mense vermoor in Suid-Afrika. Dit is gemiddeld 60 mense per dag. Die afgelope sewe jaar tot Maart 2009 is amper 135 000 mense in Suid-Afrika vermoor (134 552).
Die wêreldgemiddeld vir moord is 5 per 100 000, maar in Suid-Afrika is dit 38 per 100 000. Amper agt keer meer.
Sedert 1994 is meer as 3 000 boere en plaaswerkers vermoor in meer as 10 000 plaasaanvalle. Dit gee 'n syfer van meer as 200 per 100 000.
Dit is hierdie syfers wat mense se idealisme en drome na 1994 vernietig het. As na sommige ANC-uitsprake geluister word, begin 27 April steeds meer die betekenis kry van die oorwinning van een groep oor die ander. Dit is histories verkeerd en 'n resep vir nuwe konflik en nie vir samewerking nie.
Met Malema aan die een kant en radikale uitsprake aan die ander kant, is Suid-Afrika vandag meer gepolariseerd as enige ander tyd sedert 1994.
Swart rassisme teen wittes is tans baie gewild. Ek kan talle voorbeelde gee. Swart rassisme word gebruik om stemme te werf en om mense te mobiliseer. Maar swart rassisme los geen probleme op nie – dit skep net nuwe en groter probleme. Swart en wit leiers moet dit skerp veroordeel.
Maar dieselfde geld vir wit rassisme. Wit rassisme los geen probleme op nie – dit skep net nuwes. Ek lees hierdie wit rassisme in woedende anonieme tirades op die internet en in onverantwoordelike uitsprake. Wit en swart leiers moet dit net so skerp veroordeel.
Dit is die maklike soort politiek. Ek sweep my mense op en jy sweep joune op – en wat maak ons dan?
Wat is moeilike politiek? Moeilike politiek en ware leierskap is om 'n plek in die son te maak vir alle mense en groepe in Suid-Afrika. Moeilike politiek is om by wen-wen oplossing uit te kom. Oplossings waar niemand verontreg en onderdruk voel nie. Daar is sulke moderne internasionale oplossings. Moeilike politiek is waar ek vir my eie ondersteuners se belange baklei sonder om die groter prentjie uit die oog te verloor. Daarvoor het jy wyse leiers aan alle kante en verbeeldingryke oplossings nodig. 
Meeste mense en groepe in Suid-Afrika smag na rustigheid, samewerking en vrede. Sulke oplossings kan gevind word as weer na die moderne internasionale oplossings gekyk word. Wêreldwyd word selfbeskikking en minderheidsregte formules in samelewings soos die van Suid-Afrika vir harmonie en samewerking gebruik. Kom ons debatteer dit. Debatteer dit met 'n oop gemoed. Dit kan tot aanpassings en tot 'n opvolgskikking lei waardeur baie van die huidige probleme aangespreek kan word.
DR. PIETER MULDER
Kontaknommers: 084 603 5118 / 082 472 0189 / 082 777 0202

No comments:

Post a Comment