Kort aantekeninge oor die 1838-Gelofte
Outeurs: J. L. du Toit & Dr L. du Toit
Kontakbesonderhede: Kebarrivier, 12 Cúirt Ferndale, Brí Chualann ,
Contae Chill Mhantáin, Éire / Ierland.
Vlugpos: josefdutoit@yahoo.ie
Joseph Lee du Toit woon sedert AD 2001 in Ierland , maar is gebore in Suid-Afrika en was vir die grootste deel van sy lewe in Pretoria gebaseer. Hy verdien sy brood-en-botter in die Ierse finansiële bedryf in Dublin, maar bly steeds in noue verbinding met Suid-Afrika. Hierdie artikel is die uiteindelike vrug (in AD 2008 voltooi) van ‘n studie-poging wat aanvanklik uit Ierland onderneem is, maar later ook plaaslik in Suid-Afrika bygewerk en hersien is deur die sosioloog Lee du Toit wat in Pretoria woon. Dankbaar is ook gebruik gemaak van kommentaar en raad deur soveel vriende en kennisse dat ons onmoontlik al die name hier kan noem.
Inleiding
In ‘n tydvak waar vrae rondom kulturele bestaansreg toenemend onder volksgenote na vore kom, is dit die mening van die huidige skrywers dat ‘n terugkeer na die korrekte verstaan van die 1838-Gelofte ‘n imperatief geword het. Hierdie artikel poog daarom ook om ‘n klein bydrae te lewer tot ‘n nadere begrip van die Gelofte. Daarby is dit noodsaaklik om te meld dat daar hier geen poging aangewend word om skeptici waar dit die Gelofte aangaan, tot ander insigte te bring nie, en sekerlik ook nie om oortuigde Gelofte-genote met twyfel te belas nie. Eerder wil ons diegene vir wie die Gelofte nog altyd ‘n saak van groot erns is, soos ook by onsself, in hul meelewing nog verder versterk.
Ons mag ook nie nalaat om te meld dat ons gevolgtrekking rakende die historiese outentiekheid van die Sabbatsklousule in die gangbare weergawe van die Gelofte geen “nuwe navorsing” of vermetele aanslag op die volks-eiendomlike is nie, maar al meermale deur bekende behoudende skrywers aangetoon is, waarvan sommige ook in ons bronnelys tot hierdie artikel genoem word.
Die algemeen gebruikte Gelofte-weergawe was ‘n samestelling wat aan die begin van die twintigste eeu aanmekaar gesit is uit die drie belangrikste beskrywings van die Gelofte wat behoue gebly het, en wel in ‘n formaat waarin eietydse feesgangers op plegtige wyse die Gelofte ook opnuut self kan aflê. Hierdie gangbare weergawe van die Gelofte wat tipies op Gelofte-feeste voorgelees word, word in hierdie artikel krities vergelyk met die drie oorspronklike Gelofte-beskrywings en die relatiewe meriete van elk van die drie beskrywings word ook ondersoek. Die drie oorspronklike beskrywings is naamlik:
- Die amptelike notulering van die Gelofte in die Kommando-Joernaal van J.G. Bantjes, privaatsekretaris van Pretorius, en klerk van die Boere Volksraad, soos opgeteken tydens die Bloedrivier-ekspedisie, en later in ‘n Kaapse koerant gepubliseer op versoek van dieselfde Volksraad;
- Die Kommandantverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad, opgeteken ‘n week na die Slag van Bloedrivier (en twee weke na die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is); en
- Die herinneringe van Sarel (oftewel Charl) Cilliers rakende die Gelofte, soos gedikteer vanuit sy sterfbed meer as dertig jaar na die Slag van Bloedrivier.
Met die oog op die gerief van die leser, word die onderskeie beskrywings (sowel as die algemeengebruikte feesweergawe) aangehaal, met bypassende kommentaar wat die spilpunt van die artikel vorm. Die artikel sluit met ‘n aantal gevolgtrekkings rakende die kerninhoud van die eintlike Gelofte, en gee enkele aanbevelings vir moontlike verbetering op die gangbare weergawe daarvan.
Die amptelike notulering van die 1838-Gelofte J.G. Bantjes, Pretorius se privaatsekretaris en klerk van die Volksraad, doen die volgende inskrywing op 09/12/1838 in die amptelike Kommando-Joernaal. Die joernaal wat die volledige ekspedisie dek, is gestuur aan die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan in opdrag van die Boere Volksraad, en is in dieselfde koerant gepubliseer op 14/06/1839 as ‘n insetsel onder die titel “Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838; - ondernomen met oogmerk om wraak te nemen, wegens den wreedaardigste en onmenselikste moord van het gewezen Hoofd der Uitgewekenen, Pieter Retief, en zyne zestig med-gezellen, en de daarop gevolgde onmenselike slagting, van mannen, vrouwen en kinderen, gepleegd door Dingaan, en zyn volk; - alsmede ter herovering der goederen en bezittingen, by die gelegenheid door hen geroofd”:
Des anderen daags, zynde de 9e, was alles nog rustig, en wy bleven hier over, om de Sabbath te vieren; terwyl ok de vorige Zaterdag avond, in de tent van de Hoofd-Kommandant, werd doorgebragt met ‘t zingen van enige gepaste liederen, en ‘n kragtig gebed, door de heer Cilliers gedaan.
Des Zondags morgens, vóordat de godsdienst begon, liet de Hoofd-Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen ‘n gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), – “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.
De heeren Cilliers, Landman en Joubert, waren opgeruimd in het gemoed, om zulks te horen; zy onderhielden hunne gemeentens hierover en verkregen hunne algemene toestemming. Toen hierna de godsdienst onderscheidelik begon, nam de heer Cilliers dezelve in de tent van de Hoofd-Kommandant waar. Hy begon met het (laten) zingen uit Psalm 38 vers 12, 16, deed vervolgens het voorgebed, en sprak over de eerste 24 verzen van het 6e Kapittel uit Judicum of de Richteren; besloot vervolgens met het gebed, waarin de belofte voormeld aan God werd gedaan, en ‘n krachtige smeking, om Gods hulp en bystand, in het volbrengen derzelve. Er werd weder gezongen, de 12e en 21e verzen van voorm. 38e Psalm, en hy besloot de godsdienst, door het zingen van Psalm 134.
Na de middag werd weder ‘n byeenkomst gehouden, en men zong verscheidene toepasselike verzen; de heer Cilliers maakte weder ‘n aanspraak, en verrigte het openbare gebed; op welke wyze, ook de avond werd doorgebracht.
Ter agtergrond is dit belangrik om eerstens te noem dat die Gelofte elke dag vir sewe dae vanaf 09/12/1838 tot en met 15/12/1838 afgelê is, waarna God op wonderbaarlike wyse uitkoms verleen het op 16/12/1838. Die presiese gebeure van die veldslag self is nie die onderwerp van hierdie artikel nie, en ons brei gevolglik nie hieroor verder uit nie.
Die feit dat juis hierdie beskrywing gestuur is aan die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan in opdrag van die Volksraad dui daarop dat bogenoemde teks dié instument was waarop die Boere hul volksgenote in die Kaapse Kolonie wou inlig, beide oor die gebeure rondom die Gelofte, en oor die Gelofte self.
Insiggewend ook is die feit dat die titel van die amptelike Kommandojoernaal spesifiek die frase “Uitgeweke Boere” gebruik as naam van wie later “Voortrekkers” gedoop is. (Geskiedskrywers gebruik dikwels die term “Emigrante Boere”.) Die volk was dus van die begin af as “Boere” bekend.
Daar moet bygevoeg word dat die term “Afrikaner” ook nie onbekend was nie. Tog bly die feit staan dat ons pre-twintigste eeuse volksgeskiedenis deur die volksnaam “Boer” oorheers word, terwyl die term “Afrikaner” weer die twintigste eeu self oorheers. Die toenemende gewildheid in die een en twintigste eeu van die saamgestelde volksnaam “Boere-Afrikaner” is daarom nie verbasend nie, en omhels ons volksgeskiedenis en afsonderlike identiteit vollediglik.
Ons lees in die Gelofte-notule dat daar as volg belowe word: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen”. Die notuleerder dui met die gebruik van aanhalingstekens aan dat hierdie gedeelte woordeliks oorgeneem is uit Pretorius se mond. Dat die notuleerder dít juis nodig geag het moet vir ons ‘n aanduiding wees van die besondere belang van juis hierdie aanhaling. Dit klink reeds met die eerste lees hier al vergesog dat alleen die oprigting van ‘n fisiese kerkgebou van klei, klip en gras onder die woord “stichten” bedoel is. Neem die leser nog daarby in ag dat so ‘n “Huis” gestig moet word “tot zijns Grote Naams gedagtenis” sal ons noodwendig moet begin beweeg na die interpretasie dat dit hier oor die stigting van ‘n volk gewy aan die Here gaan. Die Almagtige woon in die harte van Sy kinders en nie in geboue gemaak met mense-hande nie.
Sien byvoorbeeld die volgende Teksverse uit die Afrikaanse Bybel van AD 1953 geneem:
- 1 Petrus 2:4-5: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom om geestelike offers te bring wat God welgevallig is deur Jesus Christus”;
- Handelinge 7:48a: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie”;
- Jeremia 24:7:”En Ek sal hulle ‘n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.” (Ook die sendingopdrag word aan ons in die Woord op duidelik volksgerigte wyse opgedra in Matteus 28:19a: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.”) ‘n Volk gewy aan God deur ‘n Gelofte gekoppel aan haar voortgesette bestaan is nie bloot ’n bron van besondere seëning nie, maar bring ook ernstige verantwoordelikheid daarmee saam. Losmaking van hierdie bestaanswyding bring die volk se bestaansreg in gedrang, soos ons lees in Spreuke 14:34: “Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies”.
Die daarstelling van kerkgeboue (bv die Pietermaritzburgse Geloftekerk) vir God se kinders, vloei egter wel sekondêr uit die ware Gelofte-plig, aangesien ‘n volk gewy aan God, nuttige geboue ter Sabbatsgebruik benodig.
Die woorde, “deze gelofte”, in die frase, “… en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen …”, spesifiseer die Gelofte, naamlik alleen die voorafgaande klousule rakende die stigting van ‘n Huis tot die gedagtenis van Sy groot Naam, waar dit Hom sal behaag. Tog hierna (dit wil sê buite die Gelofte-spesifikasie om) voeg die notuleerder by, “… en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden …”. Die Boere het nie gedink dit is nodig om die nageslag te bind tot dankbare herinnering van die ingrepe van God Almagtig in die lotgevalle van hul volk nie. Die herdenking is dus as ‘n gegewe aanvaar, waarvoor alleen die aantekening van die gebeure en die bekendmaking daarvan nodig was. Om hierdie rede was Bantjes se rol van die begin af ‘n amptelike een, en daarom is hierdie bron ook die mees gesaghebbende van die drie tot ons beskikking. Hier vind ons inderdaad die amptelike notulering van die Gelofte.
Die Boere se Psalmberyming was dié van die Nederlandse Psalmboek van AD 1773. Die aanvanklike Psalmverse wat in hierdie Sabbatsdiens gesing is stem ooreen met Psalm 38:13,17 in die Afrikaanse Bybel. Die opeenvolging van verse van vers 13 tot 17, word kragtig in vers 16 saamgevat: “want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!”
Cilliers se preek blyk as Teksgedeelte Rigters 6:1-24 te gehad het. Hierdie verse vertel van die oproeping van Gideon deur God, om Israel te verlos uit die onderdrukkende hand van die Midianiete. Dit begin deur ‘n verwysing na die eintlike oorsaak van die onderdrukking, naamlik die sondigheid van Israel. Bevryding was hier nie net ten doel om die Midianitiese juk af te gooi nie, maar ook dat die volk na haar God moes terugkeer.
Die Here se vertroostende bemoediging kan ook nie in die konteks van die Bloedrivier-gebeure sonder betekenis vir die kleine kommando-gemeente gewees het nie. By Gideon se verwysing na sy absolute geringheid, vind ons in vers 16 die volgende: “Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”
Enige eerlike waarnemer van die gebeure van AD 1838 sal moet erken dat die volk se bestaansreg inderdaad in gedrang was. Die geringe Gideon en sy geringe bende was God se instrument in die bevryding van die ganse Israel, beide uit die juk van Midian, maar ook ter steeds nadere terugkeer na die HERE. So was ook hierdie Boere, God se instrument waardeur die ganse volk (ja, ook die Zoeloe’s self en ander buurvolke) van die bloeddorstige tirannie van Dingane bevry is, en waardeur die volk opnuut opgeroep is om op haar God te vertrou en na Hom te keer – ook in die opvolgende geslagte.
Met die skenking van oorwinning aan die Boere het daar ‘n tydvak van vrede gekom soos ook in die Teksgedeelte aan Gideon belowe word. In hierdie vertroue het Gideon ‘n altaar aan die HERE gebou en dit genoem “Die HERE is vrede!”. So ook het die Gelofte-volk na haar oorwinning, denkend aan haar verantwoordelikhede as volk gewy aan God, aan die daarstelling van ‘n altaar/kerkgebou in Pietermaritzburg en elders waar sy later gevestig het prioriteit verleen, sodat die volk gewy aan God ook stigtelik as volk haar God kon aanbid.
Die sing van verse 12 en 21 van Psalm 38 uit die Nederlandse beryming word ook vermeld. Die 1773-Beryming lui hier so roerend dat ons dit graag aanhaal:
Vers 12
Zij, die mijnen dood bejagen,
Leggen lagen,
Dreigen mij den laatsten slag,
Spreken, hoe mij ‘t best te krenken;
En bedenken
Mijn verderf, den gansen dag.
Vers 21
Zie mij, HEER’, wien elk moet duchten,
Tot U vluchten.
O mijn God, verlaat mij niet;
Blijf niet, wegens mijn gebreken,
Ver geweken;
Toon, dat Gij mijn rampen ziet.
Ons word ook verder meegedeel dat verrigtinge afgesluit is met die nagtelike lof- en seëngroet van Psalm 134, waarmee die gemeente haar hoop stel enkel en alleen in die seëning van haar Verbonds-God “wat hemel en aarde gemaak het”.
Die 1838-Gelofte in die Kommandant-Verslag Die Gelofte word ook beskryf in die volgende uittreksel uit die verslag van Pretorius aan die Volksraad, soos geskryf op 23/12/1838 – twee weke na die aanvanklike Gelofte-aflegging: Verder wens ik Ued. ook ter kennis te brengen, dat wij alhier onder elkanderen besloten hebben om de dag onzer overwinning, zijnde Zondag, de 16e dezer maand December, onder ons ganse geslacht te doen bekend worden, en dat wij het aan de Heer willen toewijden en vieren met dankzeggingen zoals wij vóordat wij tegen de vijand streden, in ‘t openbaar gebed beloofd hebben; zo ook dat, zo wij de overwinning verkrijgen mogen, wij den Heere tot Zijns naams gedachtenis ‘n huis stichten zullen, alwaar Hij ons zulks aanwijzen zal; welke geloften wij nu ook hopen te betalen met de hulp des Heeren; nu Hij ons gezegend en onze gebeden verhoord heeft.
Met die frase, “… dat wij alhier onder elkanderen besloten hebben om de dag onzer overwinning, zijnde Zondag, de 16e dezer maand December, onder ons ganse geslacht te doen bekend worden, en dat wij het aan de Heer willen toewijden en vieren met dankzeggingen …”, maak Pretorius dit duidelik dat dit “wij” (d.w.s. die toe huidige geslag) was wat die dag wou toewy en vier. Al wat die Boere volgens Pretorius onder hul “ganse geslacht te doen bekend worden” is die “dag onzer overwinning”. Die nageslag word geensins tot viering gebind nie, omdat ‘n dankbare Gelofte-volk nie sodanige binding nodig het om haar aan te spoor tot herinnering van God se uitreddende ingrepe in haar geskiedenis nie.
Die Geloftebinding behoort dus eerstens as ‘n volkswyding gesien te word, waaruit die noodwendige vrugte, soos dankbare herdenking voortspruit.
Verder merk ons weereens op dat die Nederlandse woord “stichten” ook in hierdie beskrywing (soos in dié van Bantjes) gebruik is: “… wij den Heere tot Zijns naams gedachtenis ‘n huis stichten zullen, alwaar Hij ons zulks aanwijzen zal …”. Die Nederlandse Statenvertaling van die Bybel uit AD 1637 het in die bestaan van die Emigrante Boere ‘n sentrale plek ingeneem. Om absolute sekerheid te hê oor die betekenis wat hul geheg het aan hierdie woord “stichten” soos in die 1838-Gelofte genotuleer, hoef ons dus nie verder te soek as juis die gebruik hiervan in die Statenvertaling nie. Die woorde “stichten/sticht/stichting
Beste Willem: Baie dankie vir die plasing van bo-staande. Ons het onlangs klein maar belangrike toevoegings gemaak tot ons artikel oor die Gelofte-bewoording, wat u moontlik in belang sal stel. Dit behels addisionele aanhalings van Andries Pretorius (voor sy vertrek na Natal), sowel as van 'n verlangse neef van hom (en deelnemer aan die slag), Dewald Pretorius. Daarby ook 'n kort paragraaf oor die kruisbestuiwing tussen die Skotse Tweede Reformasie, die Nederlandse Nadere Reformasie en die Emigrante Boere (oftewel Voortrekkers). Die nuutste weergawe is te vinde by:
ReplyDeletehttp://www.bloedrivier.org/pdf/dutoit.pdf
Gelofte-groete
Josef du Toit
Carlingford, Ierland